'n Kort storie
Die hyser hou net aan met klim, lank na daar nie meer plek op die metaal plaatjie met die gloeiende nommers is vir nog vloere nie. Tog hou die gloeiende nommers aan met verskyn, tot dit uiteindelik begin vervorm in letters, dan simbole teen die tyd wat dit deur die hyser se muur beweeg - en steeds is hulle sigbaar.
Dis dan dat ek besef dat die hyser nie meer besig is om op of af - of vorentoe of agtertoe of links of regs - te beweeg nie. Daar is 'n onbekende rigting, een wat nog nie van te vore in ag geneem is nie, en dit laat my toe om enige plek waar ek wil af te klim. Nuuskierig kyk ek weer na die paneel vol knoppies en sien tot my verbasing dat daar terselfde tyd steeds die gewone 24 knoppies en so veel knoppies soos wat ek wil he op is. Nuuskierig druk ek een. Dit proe soos die reuk van papier wat geel is van ouderdom...
Ek staan voor 'n groot glas deur. Op die deur, in groot swart letters, staan daar Afkop en Galgtou Prokureurs. Om een of ander rede is dit geensins vir my vreemd of ontstellend nie. Ek stoot die deur oop en stap in. Voor my is 'n doolhof van kantoor afskortings. Hier en daar sien ek die groen blare van plante uitsteek bo die afskortings, maar nerens sien ek 'n ontvangs dame of selfs 'n lee ontvangs tafel nie. Ek kyk af, en op die vloer sien ek 'n blou pyl met 'n groot oog wat vir my wink. Die pyl wys na die ingang van die doolhof, en na 'n oomblik van aarseling besluit ek om in te gaan. Ek kan sien dat die doolhof veronderstel is om verwarrend te wees, maar gelukkig is ek lank genoeg om bo oor te sien en kort voor lank vind ek myself aan die ander kant.
Hier sien ek uiteindelik tekens van lewe... soortvan. Agter 'n ou eike tafel met 'n bordjie waarop daar staan 'ont-vangs' sit daar 'n stok ou vrou met spinnerakke en stof oortrek. Teen haar oor hou sy 'n foon se gehoor stuk vas. Die draad van die gehoorstuk hang in 'n lus wat op krom en weer ingaan by haar ander oor. Op die tafel is daar ook 'n klokkie soos wat mens sal aantref op 'n hotel se toonbank. Ek stap nader en druk die knoppie een keer...
Die hout deure aan die teenoorgestelde kant van die kamer bars oop en 'n kort vet man met grys hare kom uit gewaggel agter 'n lang skraal man met 'n kaal kop. Die lang skraal man wys 'n benerige vinger na my en skreeu, "Dis hy gewees, daar is hy! Arresteer hom gevolgens Artikel 167A.33!"
Ek sien agter die kort vet man 'n spul mans in uniform wat by sy groot vorm probeer verby kom, hulle slaan hom met hul kluppels maar hy steer hom min aan hulle en staan net vir my en staar met 'n honger kyk in sy oe wat my glad nie aanstaan nie terwyl hy sy hande saam vryf. Ek kyk vinnig rond en sien dat die vrou agter die tafel se ander hand soos die stuk van 'n foon waarop dit rus lyk en spring nader en roep, "Kom nader en ek druk haar dood!"
Die lang skraal man raak bleek en styer terug, en ek gebruik die kans om die klokkie weer te druk, waarop almal weer verward terug hardloop en die deur agter hulle toeslaan.
Voor hulle agterkom wat gebeur het en weer uitstorm besluit ek om te verkas, en vind my pad terug deur die doolhof van afskortings. Ek verskyf ook 'n paar en voor ek aan die ander kant uit is bars hulle weer by die deur uit en skreeu, "Jy't ons gekul!"
Hulle probeer my agtervolg, maar word hopeloos verdwaal en in 'n flits uit die toekoms sien ek hul uitgeteerde geraamtes versprei in die doolhof. Dan is ek aan die ander kant uit en uit by die deur.
Ek wag vir die hyser en wanneer ek terugklim druk ek G vir grondvloer - ek sal 'n ander dag weer kom kyk wat op die ander 'vloere' is.